‘n Dag in die lewe…

Ek is nou al ‘n week op my “Health Retreat”. ‘n Week en een dag, om presies te wees. Hulle hou mens ongelooflik besig met allerhande klasse en kursusse, doktersafsprake en sielkundiges.

Die sielkundige wat ek hier sien is Tania Oosthuyzen. Vir die eerste twee dae het ek nie regtig baie van haar gehou nie. Nie omdat daar iets fout was met haar nie, maar omdat ek gevoel het asof sy te slim is vir my. Sy was daai tipiese fliek-sielkundige wat sit en vir jou kyk en wag dat jy praat.

Op dag drie, ewe skielik, was sy anders. Sy het begin met my interact en baie reguit vir my probleme uitgewys in my narratief en hoe ek dinge aanpak.

Tania het vir my verduidelik dat ek so ‘n intense persoonlikheid het, en die manier hoe ek situasies so maklik kan aflag gee die indruk dat my probleme nie so groot is soos hulle is nie. Sy het gesê dat dit was so aansteeklik dat sy ook daarvoor geval het, want my glimlag en my aura is so warm dat dit nie lyk of ek issues het nie, maar toe sy dit besef en begin my aanspreek oor ek heeltyd alles aflag toe kom die regte demone uit.

Vandag het Tania vir my gesê dat ek, obviously pre-“Health-Retreat”, op ‘n pad was waar ek al die sterk verhoudings in my lewe moer toe gestuur het. Nie omdat mense nie meer lief was vir my nie, maar omdat my intensiteit te veel is vir mense om te hanteer en dat mense op plekke kom waar hulle vir my sê “Ek is baie lief vir jou, maar vir my eie veiligheid moet ek hier uitkom.”

Dit het my nogals geskok, want dit was presies wat gebeur het in die laaste paar weke van my maniese episode.

Die grootste een van hierdie oomblikke was toe GJ vir my sê hy sien nie meer kans hiervoor nie. Dit het baie seer gemaak. Dit was eenhonderd persent my Rock-Bottom, of Wake Up Call, of watookal mens dit wil noem.

Tania het vir my huiswerk gegee om ‘n opstel te skryf oor ‘n lewe saam met my, uit GJ se oogpunt uit.

Hierdie klink baie maklik, want ek is ‘n flippen lekker mens. Maar ek is nie. En dis eintlik ongelooflik moeilik om hierdie te skryf.

Ek het besluit om my huiswerk as ‘n blog te skryf, omdat dit dit vir my makliker maak, maar ook omdat ek hoop dat mense my verantwoordelik en aanspreeklik kan hou vir wat ek nou doen.

So hier is dit; ‘n dag saam met Tiaan Greyvenstein, uit die oogpunt van GJ Scheepers:

Meeste oggende word Tiaan wakker voor my. Hy gaan stort gewoonlik voor my en is al aangetrek vir werk wanneer ek opstaan. Ek glimlag nog steeds elke liewe dag as hy vir my tienduisend soene gee om my wakker te maak, ek is regtig mal daaroor, maar ek weet ook wat kom.

As ek gaan stort moet ek altyd wonder of dit suspicious gaan lyk as ek my foon saamneem badkamer, want ek weet dat weens sy eie insecurities kan hy homself nie keer om deur my foon te gaan terwyl ek stort nie. Hy vind altyd iets wat hom ontstel, selfs al is daar niks nie, en teen die tyd wat ek uit die stort uitklim is hy gewoonlik stil en snaaks met my.

Ek vra gewoonlik so twee of drie keer of alles oraait is waarop hy ‘n bot “ja” antwoord. Tiaan sal my dan groet, kosblikkies op die kombuistafel neersit en ry.

Sowat vyf minute later kry ek gewoonlik ‘n WhatsApp waarin hy my uittrap oor watookal hy op my foon gekry het wat hom ontstel het, of oor wat ek probeer wegsteek deur nie my foon êrens te los waar hy deur dit kan gaan nie. Die volgende twee ure lank stry ons heen en weer oor WhatsApp tot ek maar herken ek is verkeerd en ek is jammer en Tiaan verdien eintlik soveel beter as ek en ek is so gelukkig dat hy besluit het om my te kies.

Gedurende die dag sal ek dan random “Ek is lief vir jou” boodskappe kry, wat ek weet is Tiaan se manier om jammer te sê, maar ek hou nie daarvan om tagtig keer terug te sê “ek is lief vir jou ook” nie, so dan ontstel ek hom as ek net ‘n soen terugstuur.

Die oomblik wat Tiaan van die werk af kom, so half drie in die middag, begin ek boodskappe kry oor hoe laat ek huis toe gaan kom en hoekom ek op daardie spesifieke tyd by die huis gaan wees. As ek nie by die huis is op die tyd wat ek gesê het ek gaan daar wees nie sal hy my bel en bel tot ek verduidelik ek moes gou by Builders Warehouse stop, of ek het gou by Spar gestop om vir Ellie ‘n brood te koop, want Tiaan was nie lus om dit te doen toe hy van die skool af kom nie.

Meeste middae as ek by die huis kom het Tiaan al aandete gemaak, of plan gemaak vir aandete, omdat hy voor my by die huis is. Een van die kere wat hy my spesifiek gevra het om kos te maak het ek dit nie gedoen presies soos wat hy gevra het nie, en het ons vir amper twee dae lank baklei daaroor. Tydens hierdie bakleiery het hy allerhande ander goed wat ek verkeerd doen ook uitgewys, en ek het regtig nie daarvan gehou nie. Hy kon nie eers net dankie sê nie. So, ja, ek is bly en dankbaar as hy kos gemaak het want dan is ek daardie drama gespaar vir nog ‘n dag. Behalwe op die dae wanneer ek dan moet hoor dat ek nie genoeg moeite doen nie en dit is nie sy werk om vir my te kook nie. Ek weet dit is nie sy werk nie, dit gebeur maar net so want hy is eerste by die huis en hy is baie meer ervare in kosmaak, en hy geniet dit actually.

As ek durf by die deur instap en my tasse eers neersit voor ek hom “hello” soen kry ek weer ‘n onmiddelike kyk. Die volgende dertig minute luister ek hoe hy sonder ophou kla oor sy dag, sy werk, sy kollegas, sy studente, dit wat voorlê en net hoe sleg alles is. Tot so mate dat ek werlik wonder of hy hou van die beroep wat hy gekies het. As ek durf om enige iets anders te sê as “Ja, almal is kak en alles is kak,” raak hy kwaad daaroor ook.

Na dit sal ons gewoonlik eet. Tiaan sal vra of is die kos lekker; as ek sê “ja” sal hy vir my sê ek jok en vir my vertel wat alles fout is met die kos, en as ek sê “nee” of “ek sou hierdie eerder so verkies het,” val hy in ‘n depressie in oor hy nie eers goed genoeg is om vir my kos te maak nie.

Ons sal gewoonlik ‘n TV storie of ‘n fliek kyk, waar hy altyd met sulke puppy-dog eyes sal vra of hy op my skoot mag lê. Selfs al kort ek my spasie wanneer ek ook ‘n lang dag gehad het, sal ek altyd ja sê, want ek weet hy het dit nodig en dit laat hom beter voel.

Teen die tyd wat ons bed toe gaan is ek gewoonlik al verskriklik uitgeput oor al die emosionele ondersteuning wat ek na sy kant toe moet bied dat ek net wil ontspan, en dit is gewoonlik wanneer hy dan die gesprek van die oggend wil hêrvat. As ek sê ek is nie lus om daaroor te praat nie, ontstel dit hom, maar as ons daaroor praat eindig dit gewoonlik op in ‘n situasie waar ons kwaad vir mekaar gaan slaap; iets wat Tiaan ook nie van hou om te doen nie.

Ek is ongelooflik lief vir hom, en ek doen al hierdie dinge vir hom oor ek lief is vir hom, maar dit maak my moeg, en ek het niemand by wie EK kan gaan afpak oor die emosionele uitputting wat ek ervaar deur ‘n dag saam met Tiaan te spandeer nie.

Tiaan is baie meer sosiaal as ek, so meeste van ons vriende ken sy weergawe van ons lewens voor hulle myne hoor, en dus help dit ook nie ek probeer met een van hulle praat nie.

Hy maak my moeg, maar ek sal dag na dag weer moeg raak vir die hoop dat eendag gaan dit verander en dat ons een dag net gelukkig saam gaan kan wees en emosioneel in mekaar se lewens kan insaai.

Ek weet hy ervaar dit anders, en daarom wil ek hom ook nie oorlaai met hoe ek daaroor voel nie, want dit mag dalk net nog emosies van my af verg.

Daardie is ‘n kort opsomming van hoe ek dink GJ dit ervaar. Natuurlik is elke dag nie net sleg nie, en het ons verhouding ongelooflike goeie tye. Hierdie is ‘n kort opsomming van ‘n gewone dag in die Greyvenstein-Scheepers huis.

Ek leer ongelooflik baie op my “Health Retreat”, maar om myself van buite af te sien is seker een van die grootste goed wat ek al in my lewe moes doen.

Ek is besig om te leer om verantwoordelikheid te neem vir my insecurities en vir my emosies. Ek is ook besig om te leer om lief te raak vir dele van my wat ek nog nooit eers verstaan het nie. Niemand kan verantwoordelikheid vat vir my geluk behalwe ek self nie. In the words of Mama Ru: “If you can’t love yourself, how in the hell are you gonna love somebody else?”

Ek doen hierdie publicly, want ek wil ‘n pledge afneem, waarvoor ek verantwoordelik gehou wil word; As my optrede verg dat jy van jou eie geluk moet opgee om in my lewe in te tap wil ek graag daaroor aangespreek word. Ek wil leer om verantwoordelikheid te neem vir wie ek is, en nie meer afhanklik te wees van mense se opinies om my eie opinie oor myself te skep nie.

“Can I get an Amen?” – RuPaul.

Dit is al vir nou. Ek maak goeie vordering en ek kom op ‘n beter plek uit as wat ek al ooit was.

Published by TiaanGrey

Teacher and undeniable hopeful.

One thought on “‘n Dag in die lewe…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: