Wat rym met “Niel”?

As ek ooit weer in die hoërskool moet wees en daai stupid LO-opstel moet skryf oor wie is die most influential persoon in jou lewe, sal ek ‘n baie moeilike tyd hê om te besluit, maar Niel van Eeden sal definitief een van die mense bo-aan my lysie wees.

Toe ek begin swot het, het ek nie regtig myself imagine in ‘n studente-lewe nie. Ek was natuurlik opgewonde oor weg van my ouers af wees en “doen wat ek wil” en al daai dinge, maar ek het myself nie regtig gesien inskakel tussen ander nie. Ek was nog nooit iemand vir groep-aktiwiteite nie.

Ek het aansoek gedoen by ‘n koshuis nadat ek tydens opedag gesien het hoe cool dit lyk, maar ek het slegs aansoek gedoen by koshuise met enkelkamers, want dit het ook nie so cool gelyk nie. Ek het nie plek gekry nie.

Jean, een van my “vriende” van hoërskool, ons is nou baie beter vriende, was deel van Thaba-Jäh Mansdorpskoshuis, en omdat ek vir Jean darem geken het, het ek myself laat oortuig om by hierdie koshuis aan te sluit.

Thaba-Jäh was duidelik nie die populêrste koshuis nie, wat nogal perfek vir my was, want ek is nie ‘n fan van groot byeenkomstes nie.

Ek het in Junie van 2012 my hare begin groei en daardie Desember vir my dreadlocks gerol. Because why not? Januarie het ek ingeklok by die koshuis met dreadlocks, skinny-sweatpants en All-Stars, ek het gedink ek is fokken cool.

Omdat ek vriende was met Jean, het ek myself vinnig gemaklik gemaak. Ek onthou die eerste dag het Jean en Wentzel (wat later my koshuis-pa geword het) my ingenooi in die klubhuis in om saam met hulle pool te speel. Ek het ingegaan. So vyftien minute later het so massiewe blok van ‘n man, Riaan Greyling, ingestap en direk voor my kom staan. “Kan ek jou help?” het hy vir my gevra en ek kon voel hoe my stem deur my poephol uitglip. Ek’t so half begin woorde aanmekaar vleg om te verduidelik ek was ingenooi, en hy het net stadig my gewys na die deur toe. Ek het uitgeloop en gesien die res van die eerstejaars sit almal in rye buite. Wat ‘n great begin! Mooi, Tiaan!

Ek het nie met baie van die eerstejaars vriende gemaak nie. Deels omdat ek teen die tyd nie meer ‘n agtien-jarige matriek-seun was nie, ek was op pad een-en-twintig toe. Die ander rede is omdat hulle almal blykbaar gedink het ek was ‘n gangster, en te bang was om my te nooi vir ‘n braai.

Teen die einde van my eerstejaar was ek al bietjie meer gemaklik. PUKfm het my soortvan gedryf om bietjie meer selfvertroue te hê, ek het begin vriende maak (met van die seniors) en ek het gehou van waar ek is.

In my tweedejaar het ek toe nou obviously die voorreg gehad om een van die seniors te wees wat binne-in die klubhuis mag pool speel terwyl die eerstejaars in rye buite sit. Reëls het daardie jaar ook baie verminder (na ‘n belaglike sensasionele berig in die Beeld oor die “militaristiese” koshuislewe op die PUK), en die aand van senior-ontmoeting het ons actually met die eerstejaars gekuier.

Teen die einde van die aand het ek op die hout deck van Dansbar gesit met twee eerstejaars, maar ek kan nie eers onthou hoe hulle lyk nie, en gepraat oor music festivals en allerhande goed.

Sowat twee weke later het ek eendag gesit en wag vir ‘n klas om te begin, weens anxiety was ek altyd so dertig minute vroeg vir ALLES, dit was ‘n Maandag-oggend. Een van die eerstejaars van ons koshuis het verby my geloop en my gesien sit op die trappie, volgens hom het dit gelyk of ek nie vriende het nie, volgens my het ek gewag vir klas. Hy het my genooi om saam met hom ‘n bier te gaan drink en ek het onmiddelik vergeet van my klas. Ons het ons eerste Maandag-bier saam gedrink en dit was die begin van ‘n vriendskap wat my op verskeie paaie geneem het. Sy naam was Niel, maar mens het dit nie gespel soos die normale “Neil” nie en ek onthou ‘n grappie wat hy my vertel het: “Wat rym met Niel? Seil.” Ek het gelag, want my antwoord was nie seil nie.

Niel was een van die twee eerstejaars op die hout deck by Dansbar.

Hy het vir my sy nommer gegee, maar ek was te bang om te klink of ek needy is so ek het vir ‘n ruk hom nie gekontak nie. Een dag het ek Draak toe geloop met die hoop dat ek hom daar “toevallig” sal raakloop, en wragtig hier was hy weer. Dit was weer ‘n Maandag en ek het weer my klas gemis. Ons het die dag besef dat op ‘n Maandag het ek so awkward breuk tussen klasse van 11:00-15:00 en Niel het ook ‘n breuk van 11:30-15:30. Draak-Maandag het daar ontstaan. Ons het mekaar elke Maandag in die Draak gekry, en elke Maandagmiddag mekaar oortuig om ons middag-klasse te skip.

Ek en Niel het baie vinnig baie goeie vriende geraak. Hy is die tipe mens met wie ek kon debatteer oor alles en niks. Ons het so passievol debatte gevoer dat ons gereeld baklei het, en dan die geveg met nog ‘n brandewyn begrawe het. Ons het gepraat oor depressie, godsdiens, dwelms, skool, die toekoms, die lewe. Niel was die eerste vriend wat ek ooit gehad het met wie ek kon praat oor belangrike goed, en wat teruggepraat het. Ouer mense sê altyd dat mens oor drie dinge nie praat nie; rugby, godsdiens en politiek. Ek en Niel kon oor al drie en nog baie meer praat, en hoewel ons gereeld van mekaar verskil het, het ons altyd gelike om te praat.

Koshuis-dinee 2014. Ek, Chante, Zolla, Tannie Hantie en Niel.

Niel se ouers het student-wees andersom gedoen as my ouers; sy ouers het vir hom lekker groceries gekoop en altyd petrol ingegooi, maar nooit spesifiek vir hom geld gegee nie; ek het elke maand sakgeld gekry, maar nie gereeld kos en goed wat geld kos nie. Ons was die perfekte kombinasie. Niel het my gereeld genooi om by sy huis, met sy wifi take te kom doen, en soms sy refferate vir hom te doen, terwyl hy pasta, steak, braaivleis of watookal daai aand lekker geklink het, gemaak het. Na alle take afgehandel was het ek ons dan altyd gestick vir ‘n bier of tien by Mystics. Dit was perfek.

Varsity Cup: Charl, Ek, Marike, Jacques, Jeanne, Mariska, Waldo, Niel.
Een aand by Mystics.

Niel is ‘n vriend wat werklik omgee oor wat in jou lewe aangaan. Ek kan hom in die middel van die nag bel met ‘n krisis en hy was altyd gereed en bereid om te help.

Ek het gereeld naweke saam met Niel na sy huis gegaan en ek het deel van die familie geraak. Sy familie was presies soos myne, en dit was heerlik. Niel het nie omgegee oor mens stukkend is nie, hy het alewig gewerk, al was dit nie van hom verwag nie, om mens te probeer help groei.

Een keer het ek by hom gaan kuier en ons wou die aand Jeremy Loops gaan kyk by Rumours Lounge. Die ingangsfooi was R150 per persoon, maar as jy voor 18:00 opgedaag het was dit verniet. Ons het presies R300 gehad vir die aand, so ons het beplan om voor 18:00 daar te wees. Toe ons daar aankom was dit letterlik 18:02 en ons moes ingang betaal. Ons was in ‘n moerse krisis.

Ons het gaan sit en begin beplan wat ons nou gaan doen. Ons (ek) het besluit dat ons ‘n rekening gaan oopmaak en net kuier, en die aand ‘n manier gaan soek om uit dit uit te kom. Niel was bang, want hy bly in die area en het gereeld by Rumours gaan kuier, so ons het op ‘n servet ‘n kontrak saamgestel. Die kontrak het gestel dat indien ons gevang word, of indien hy op ‘n volgende geleentheid weer daar is en hy word herken, sal ek volle verantwoordelikheid daarvoor neem en die skuld dra. Kontrak geteken, kom ons drink.

Ons het elke rondte twee Jagermeisters, twee brandewyne en twee biere bestel. Ons het die shot gedrink, dit gechase met ‘n brandewyn en die bier actually gedrink. Teen die tyd wat die show begin het, het ons inbeweeg en vir die waiter gesê om die drank daar te kom bedien. Daar was baie mense. Toe Jeremy Loops aankondig dat hy nou sy laaste song begin het ons besluit om die kans te gryp en tussendeur die baie mense uit te glip. Ons het vinnig en met mening tussen die mense deur en uit by die deur geloop sonder om terug te kyk. Binne in die kar het ons gesit vir so dertig sekondes en toe gery. Niemand het ons gevang nie.

Jeremy Loops by Rumours.

Niel is die tipe vriend met wie ek sulke simpel en onverantwoordelike goed kon doen. Hy was nie altyd keen daarvoor nie, maar hy was altyd ‘n bok vir sports.

Ons het saam ook twee Oppikoppi’s, een Mieliepop en ‘n Lush festival gedoen. Ook ‘n hele klomp keer Park Acoustics toe gegaan. Niel het die musiek gelike, maar die festivals gehaat, tog het hy elke keer vir my saamgekom. Niel is wragtig DAAI vriend wat ten koste van homself jou sal gelukkig maak. Ek was die selfsugtige een wat alles wat hy gegee het aanhou vat het sonder om te dink aan wat dit aan hom doen.

Mieliepop 2017: Ek, GJ, Marnel, Niel.
Lush 2016.
Park Acoustics, November 2016.
Niel, Riandi, Darryl en ek saam met The Lumineers. Letterlik.
VIP by The Lumineers, baby.
The Lumineers, 2016. Ek, Darryl, Riandi, Niel.

Ons het ‘n standing daaglikse date gehad, ons moet ten minste een bier per dag saam drink, dit hoef net een te wees, maar dit moet een wees. Elke Maandag oggend tien uur moes ons die eerste bier drink wat in die Draak getap word. MOES! Ons het ook ons eie Hashtag gehad; #BfF. Best fucking Friends!

In my finale jaar het Niel deur ‘n moeilike tyd gegaan, wat nie my storie is om te vertel nie, maar weens die situasie het hy Potch verlaat. Ek was heeltemal verlore. Ek het myself so diep binne-in ons vriendskap ingewurm, ek het niemand anders nodig gehad nie. Toe Niel weg is het ek vir die eerste keer besef hoe baie van my lewe het ek in sy hande geplaas en hoe afhanklik ek myself van hom gemaak het.

Toe ek Secunda toe trek het ek ‘n ongelooflike loss ervaar, asof iemand (of baie mense) skielik dood is. Ek het gesmag na die lewe wat ek in Potch gehad het. Ek het, in plaas van goeie nuwe vriende maak, konstant teruggegaan Potch toe en probeer lewe soos ek gelewe het, hoewel ek geweet het dit is nie meer dieselfde nie.

Een vakansie in die wildtuin.
Hanru, Ek, Niel.
‘n Ander Jeremy Loops konsert. Die een waar ek my kanse vir ‘n honneurs misplaas het.

Niel het vinniger as ek grootgeword. Hy het ‘n werk gekry en verder geswot. Hy het sy graad klaargemaak onder omstandighede wat ek nog nooit in was nie, en ek is tot vandag toe ongelooflik trots op hom daaroor.

Ons vriendskap het verander in ‘n grootmens vriendskap in waar ons konstant vir mekaar sê ons moet kuier, maar nooit regtig bymekaar uitkom nie. Niel het eenkeer by my en GJ in Secunda kom kuier. Ek het een keer by hom gaan kuier toe ek met vakansie was van China af, en ons kontak het al hoe minder geraak.

Hoe minder ons praat, hoe meer skuldig het ek begin voel. Ek het gevoel asof hierdie ou sy lewe rondom my ontwerp het, en ek het hom net gelos die oomblik toe hy nie meer vir my bruikbaar was nie. Hierdie is wel nie die waarheid nie.

In 2019 toe ek my meltdown gehad het, het ek verskriklik geworstel met al die verhoudings in my lewe, en een wat elke keer na vore gekom het was ons vriendskap. Ek weet dat ek nooit nie wil hê hy moet deel wees van my lewe nie, maar ek weet ook dat ten einde my vriendskappe te gered het moes ek myself heeltemal distance van dit af en fokus op myself.

So paar weke gelede het ons weer begin kontak maak en dit was asof ons net kon aangaan waar ons opgehou het.

Niel is een van die mense wat my lewe ongelooflik verander het en definitief bygedra het tot my eie sanity, hoewel dit hom baie gekos het, en daarvoor is ek ewig dankbaar. Ek is liewer vir Niel as vir baie belangrike mense in my lewe.

Nog ‘n kontrak wat ons het is dat Niel op my troudag ‘n rok gaan dra en langs my gaan staan as my Best Man. Ek sien uit na 14 Augustus 2021 sodat hierdie belofte tot vervolmaking kan kom.

Ek en Niel speel in die parkie. Of iets.
Jeanne, Mariska, Ek en Niel een aand by Arcade Empire Potchefstroom.
#BfF
Niel, Rudi en Ek.

Over and Out.

Published by TiaanGrey

Teacher and undeniable hopeful.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: